Author

DIE PROFEET REEKS - DIE GESKEURDE VALSKERM

’n Russiese satelliet wentel om die aarde. Aan boord is ’n belangrike geheime “apparaat” wat, indien dit in sy doel slaag, ’n groot bedreiging vir die Weste sal inhou. Dan loop dinge egter heeltemal verkeerd en die satelliet stort in die Republiek van Suid-Afrika neer. ’n Span Russiese spioene wat in Suid-Afrika bedrywig is, word inderhaas aangesê om die “apparaat” te gaan verwyder, maar die het intussen spoorloos verdwyn. Hannes de Jongh, ’n jong agent in die Geheime Diens van die Republiek, slaag daarin om op die spioene se spoor te kom en hul bedrywighede uit te snuffel. Maar wanneer hy op die punt staan om sy ontdekkinge aan die Geheime Diens bekend te maak, word hy koelbloedig vermoor. Guntrof en sy spioen bende het egter nie met die Profeet rekening gehou nie. Gerrit Fourie alias Die Profeet, is weer op die oorlogspad en saai behoorlik verwoesting onder ’n bende gewetenlose skurke.

#DieProfeetReeks




  • Pieter Haasbroek
    31 Oct 2022

    Gerrie Radlof is die skuilnaam van Gerrit Lubbe van Zyl (27/11/1923 - 20/9/1971) en is nog een van Suid Afrika se top skrywers wat op ’n redelike jong ouderdom in ’n motorongeluk buite Melbosstrand oorlede is. Hy is veral bekend vir sy uiters gewilde Buiter boeke (hardeband), maar het ook groot hoogtes bereik met sy alombekende Oloff die Seerower sagteband reeks verhale. Dan is daar ook sy effens minder bekende Ramala reeks, wat egter sy langste reeks boeke is en ook die Tamar reeks, wat net uit twee boeke bestaan. Onder Gerrie Radlof skryf hy ook verskeie boeke in die SA Polisie reeks en ook die Swerwer Speurder reeks. Gerrit Lubbe van Zyl was baie lief vir sy Kaapse verhale en ook die Voortrekker era. Hy skryf meer as vyftien hardeband boeke en meer as sewentig sagteband boeke in sy loopbaan. Sy Oloff die Seerower reeks is tesame met sy Buiter reeks seker die twee bekendste reekse en is tans besig om weer ’n groot oplewing te maak, nou dat beide reekse weer deur meer as een uitgewery uitgegee word. Onder die skuilnaam Dirk Lubbe breek hy bietjie weg van die land se geskiedenis en skryf hy ’n spioenasiereeks van ses boeke in hardeband. Enige Gerrie Radlof boek word vandag verslind en is sy ou boeke uiters skaars om in die hande te kry, vanweë die kwaliteit boeke wat hy geskryf het. Danksy veral vir e-boeke wat veel makliker en goedkoper is om uit te gee, maak dit moontlik vir Gerrie Radlof se boeke om na tientalle jare weer onder die aandag te kom van lesers wat hou van sy tipe stories. Gerrie Radlof se boeke was van die eerste tot die laaste een almal puik geskryf en kan jy dus nie verkeerd gaan met enige van sy boeke nie. Hy was ’n gebore skrywer wat die uitsonderlike talent gehad het, met nie net kreatiewe denke in sy stories nie, maar hy het ook die vermoë gehad om die geskiedenis op ’n unieke en verstaanbare manier uit te beeld in sy stories. Ek wonder hoeveel van die lesers wat bewus is van Gerrie Radlof se Buiter reeks of dit self gelees het, is ook bewus van sy puik spioenasiereeks? Die reeks se naam is Die Profeet en is ’n fantastiese spioenasiereeks van ses boeke. Hy het die top reeks egter onder die skuilnaam van Dirk Lubbe geskryf. In kort handel dit oor Gerrit Fourie alias “Die Profeet”. Hy is ’n lid van die Geheime Diens in Suid Afrika. In samewerking met kaptein Cornelis Brink van die Speurdiens, sorg hy vir die veiligheid van sy land en sy mense teen die aanslae van gewetenlose skurke. Daar is volop spioenasie-interaksies in elke boek, wat jou vasgenael sal hou tot jy die boek klaar gelees het.