Author

NUWE FARAOH IN DIE GROOT PIRAMIDE - SIMON RAND REEKS

Sonder om ’n spoor na te laat, verdwyn ’n aantreklike nooi in die Kruger-wildtuin. Simon Rand kry sommer dadelik snuf in die neus dat alles nie pluis is nie. Hy bevind hom egter telkens op ’n dwaalspoor, want hierdie keer het hy te kampe met mense wat byna sy gelyke is, in hul kennis van die mensdom se verborge kragte.

Baie gou vat hy die spoor wat hom lei tot binne in die Groot Piramide van Egipte. Daar tref hy ’n nuwe Farao aan in al die glorie van die Farao’s van ouds, maar die wese se dade is nie naastenby so glorieryk nie, soos Nina du Toit wat Rand se vriendin is, tot haar ontsteltenis uitgevind het.

#SimonRandReeks




  • Pieter Haasbroek
    02 Nov 2022

    Geen persoonlike inligting kon oor Jef van Staden opgespoor word nie. Hy het ʼn wetenskapfiksie reeks van ses boeke geskryf met die hoofkarakter se naam as Henk Human, terwyl hy nog ʼn ander wetenskapfiksie reeks ook geskryf het, getiteld die Simon Rand reeks. Hierdie reeks beslaan sewe boeke waar die geniale uitvinder Simon Rand en sy vriendin Nina du Toit, hulle hande behoorlik vol het om die marsmanne van ’n ander planeet te oorwin. Simon Rand noem hulle sommer die Breinduiwels, want hulle kom met geen goeie intensies na die aarde toe nie, buiten om amok te kom saai en die aarde te wil oorneem. Simon Rand kry dit reg om hom te kan verplaas vanaf die aarde na enige planeet wat hy kies, soortgelyk aan hoe die mense in die “Star Trek” flieks verplaas word binne sekondes van een punt na ’n ander. Dit stel hom en sy vriendin in staat om die Breinduiwels se planne aan bande te lê voor hulle groot skade kan aanrig. In een van die stories is daar ’n ruimteskip wat buite beheer raak en in ’n ewige wentelbaan deur die ruimte beland. Daar is mense wat lewend op ys bewaar word vir die nageslag, daar is gammastrale wat alles verkool wat in hul pad kom, daar is besoekers van ’n verre planeet en ’n verbete stryd wat tot die dood toe gevoer word. Dit alles vind plaas in net een van die boeke, getiteld, “Moord op die Agterkant van die Maan”. Soortgelyke dinge vind ook plaas in die ander stories in die betrokke reeks en is daar dus meer as genoeg aksie wat plaasvind, wat selfs die grootste aanhanger van wetenskapfiksie sal tevrede stel met wat hulle lees.