Author

WOESTE LAEVELD REEKS - RUITERS VAN DIE DOOD

Hierdie verhaal, soos ook die ander in die reeks, speel af in die tagtigerjare van die vorige eeu toe Barberton, in die bergwêreld van die Oostelike Transvaal, nog wild en woes was. Fortuinsoekers het uit verre oorde die aarde kom omdolwe op soek na goud. En te midde van geldsug en ’n koorsagtige gejaag om ryk te word, het hartstogte opgevlam. Haat, weerwraak en jaloesie was stukragte wat die mens tot die uiterste gedryf het. Wet en orde kon nie altyd behoorlik toegepas word deur die geringe polisiemag wat toe bestaan het nie. Die opperheerskappy van die rewolwer, geweer en dolk het meestal deurslag gegee in die stryd tussen reg en onreg en was deur baie beskou as die eintlike wet. Maar te midde van hierdie ruwe era en wilde hartstogte, was daar ook die mooi ontplooiing van liefde tussen man en vrou, waar innige emosies soms deurstrengel geraak het met siedende wraaklus, moord en vernielsug.

In hierdie laaste opwindende woeste weste reeks verhale uit die pen van Braam le Roux, ontsnap daar ʼn gevangene uit die tronk. Snel Benecke het net een doel voor oë en dit is om hom te wreek op die man, wat hy glo hom ontneem het van sy erfporsie, asook ʼn groot skat wat hy iewers versteek het net voor hy tronk toe is. Die persoon wat Snel wil doodmaak is die polisie-agent Frans Verwey, wat vir Snel gearresteer het vir beesdiefstal en strafbare manslag. Hein Brandis het intussen ook ʼn polisie agent geword en saam word die twee uitgestuur om te gaan ondersoek instel na iemand wat in ʼn hut verbrand het. Hein glo nie die identiteit van die oorledene nie en nie lank nie of iemand wat hy ken, bevestig ook sy vermoede in die verband. Die “oorlede” man beraam ʼn aaklige plan deur ʼn goeie vriend van Hein te vermoor en dan die blaam op Hein te plaas. Hy kry dit ook reg en Hein moet later uit die tronk ontsnap met behulp van ʼn paar getroue vriende, om te gaan soek na die man wat sy vriend vermoor het en ook om sy eie naam in ere te stel. Tussendeur is daar ook twee beeldskone vroue wat konstant meeding om Hein se aandag en maar min ooghare het vir mekaar. Die noodlot is egter teen Hein en verloor hy nog iemand baie na aan hom. Op vlug van die gereg wat hom voëlvry verklaar het asook skurke wat sy dood soek, het Hein sy hande behoorlik vol om lewend te bly en wraak te neem op die persoon wat twee van sy vriende vermoor het. Gou klap die vuiste en koeëls sing in alle rigtings in die skermutselinge wat Hein het met die wat hom wil arresteer en doodmaak. In hierdie spanningsvolle woeste weste verhaal is die skrywer op sy allerbeste en kan mens nie anders as om die boek eers klaar te lees voor jy dit neersit nie.

#WoesteLaeveld




  • Pieter Haasbroek
    30 Oct 2022

    Weet u dat Suid-Afrika ook sy eie, egte “cowboy” tydperk gehad het? Die uitmuntende Woeste Laeveld reeks deur Braam le Roux en Dewald Brink is nou weer beskikbaar in aksiebelaade stories wat hierdie swaar tydperk baie goed aanspreek. Braam le Roux was een van Suid Afrika se top Afrikaanse storie skrywers met meer as ’n 100 boeke in sy kort leeftyd agter sy naam. Saam met Dewald Brink het hulle die Woeste Laeveld reeks (ses boeke) die lig laat sien, wat volgens my die beste Afrikaanse “cowboy” tipe stories is wat ooit in Afrikaans geskryf is. Na die eerste ses boeke in die reeks het Braam le Roux egter op sy eie nog 'n verdere twee boeke vir die reeks geskryf. Al agt storieboeke in die reeks is propvol aksie, romanse, drama, spanning, hartseer en vele meer, presies soos dit ook was in daardie tyd. Dit was in die dae toe vroue “skaars en duur artikels” was. Toe wilde avonturiers uit die buiteland in hul honderdtalle die land binne gekom het en toe vee-smokkelaars en diewe met goud, sterk drank en blitsende rewolwers dikwels ’n hele gemeenskap regeer het. In die wilde, woeste Oos-Transvaal, waar die eerste groot goudontdekkings in Suid-Afrika gemaak is, het hierdie dinge gebeur. Daar was vurige, hartstogtelike meisies, soos Juanita, wat bereid was om siel en liggaam op te offer aan die man wat hulle lief gekry het. Die verhale in die reeks, speel af in die tagtigerjare van die vorige eeu toe Barberton, in die bergwêreld van die Oostelike Transvaal, nog wild en woes was. Fortuinsoekers het uit verre oorde die aarde kom omdolwe op soek na goud. En te midde van geldsug en ’n koorsagtige gejaag om ryk te word, het hartstogte opgevlam. Haat, weerwraak en jaloesie was stukragte wat die mens tot die uiterste gedryf het. Wet en orde kon nie altyd behoorlik toegepas word deur die geringe polisiemag wat toe bestaan het nie. Die opperheerskappy van die rewolwer, geweer en dolk het meestal die deurslag gegee in die stryd tussen reg en onreg en was deur baie beskou as die eintlike wet. Maar te midde van hierdie ruwe era en wilde hartstogte, was daar ook die mooi ontplooiing van liefde tussen man en vrou, waar innige emosies soms deurstrengel geraak het met siedende wraaklus, moord en vernielsug. In die moeilike tydperk was daar dus geen genade ooit gevra of gegee nie en net die sterkste en slimste en soms ook die grootste skelms het oorleef en hierdie reeks het dit alles uitstekend beskryf . Beslis ’n reeks wat my altyd sal bybly en ’n goeie idee gegee het van hoe swaar dit werklik was in daardie era en goeie tye wat selde die geval was. Hierdie reeks kry dus volpunte van my af, want die beskrywings van gebeure en die ware geskiedenis daar agter is so goed vasgevat in die skrywe van die uitsonderlike verhale, dat enige ander soortgelyke stories hard gaan sukkel om enigsins naby dit te kom.