Author

SAHARA AVONTUUR REEKS - WRAAK VAN DIE WOESTYN

’n Patrollie van die Franse Vreemdelegioen bly drie dae langer weg as wat beplan was. Dan daag hulle onverwags by fort Dini Salam op, vasgemaak bo-op perde en so erg gemartel en geskend dat nie een van hulle meer lank lewe nie. Die blond Suid Afrikaner wat hulle vergesel het, het egter nie saam teruggekom nie. Hy is ook deur El Karima weggevoer na Doetra, die hoofstad van die Doelaks, om daar te gaan sterf op die heuwel van die berg arende. Net toe Teuns dink dat hy wreed gaan sterf op die heuwel van die arende, daag hulp op vanaf ’n ou vriend wat ook ’n wrok koester teen die vorstin van Doetra, El Karima. Voor Teuns en sy redder probeer ontsnap uit Doetra, besluit Teuns om die Doelaks se heilige Swaard van Doetra te gaan steel, uit die paleis van El Karima.

Intussen kry die bevelvoerders in Dini Salam opdrag van die Opperbevel in Frankryk dat hulle nou vir eens en altyd moet ontslae raak van die wit heks, El Karima, omrede sy al te veel Franse bloed op haar hande het. Kaptein D’Arlan, die spreekwoordelike Houdini van die Sahara, lê ’n fantastiese plan voor aan kolonel Le Clerq, bevelvoerder van Dini Salam. Dit is ’n gewaagde, maar uiters briljante plan wat die Legioen nog nooit vantevore toegepas het nie.

Met slegs sestig man tot sy beskikking, vaar D’Arlan en sy manskappe die Sahara woestyn binne, om sy plan van aksie uit te voer. Hulle slaag daarin om die eerste Doelak patrollie maklik te oorwin. D’Arlan se geheime plan skok die Doelaks in so mate dat El Karima toe vyfhonderd Arabiere stuur. Hulle kry die Legioen slegs omsingel, maar kan hulle ook nie oorwin nie. Dan besluit Karima om self tweeduisend Doelaks te lei om finaal te gaan ontslae raak van D’Arlan en sy sestig man in die woestyn.

Teuns het wonderbaarlik daarin geslaag om die heilige Swaard van Doetra uit die paleis te steel, maar die hele woestyn is in rep en roer om na hom te soek. Nie lank nie of Teuns word weer gevange geneem. Maar dan daag daar een van die natuur se kragtigste verskynsels op, wat Teuns die geleentheid gee om weereens te kan ontsnap. Hy bereik D’Arlan en sy manskappe wat deur El Karima aangeval word met tweeduisend Arabiere en wie se water en patrone bykans op. Dan doen Teuns Stegmann iets op sy eie, so onverwags en so ongelooflik dat dit almal totaal onkant vang en groot chaos veroorsaak in die woestyn…




  • Kobus Roux
    17 Oct 2019

    Sal graag die volledige reeks eendag in boekvorm wil bekom.