Author

SAHARA AVONTUUR REEKS - BITTER DIE WRAAK

Dit is toe hy die fyn sand oor sy gesig voel spring dat hy sy oë oopmaak. Die eerste aasvoël het neergestryk. Hier ’n paar tree van hom af. Hy maak sy oë net op skrefies oop, want hy ken die vindingrykheid van die aasvoël. Hy loer na die ongedierte van die lug. Die ding se vlerke is wyd uitgesprei. Sy asem jaag en sy bek is wyd oopgesper. Daardie twee vlammende geel oë is op hom gerig. Daardie twee oë soek na die laaste teken van lewe by sy slagoffer. Maar die man wat daar lê, lê roerloos. Hy verroer nie ’n spier nie. Al wat in hom beweeg, is die slag van sy hart, en sy stadige, egalige asemhaling wat hy beheer sodat daardie voël selfs geen agterdog moet hê dat hy nog leef nie.

#saharawoestynstories