Author

15. OLOFF DIE SEEROWER REEKS - DIE BLOU ROBYN

Op die oop see, oos van die Wes-Indiese eilande, word die Franse vlootskepe, die Nantes en die Lodewyk II, meedoënloos deur vier kaperskepe gejag. Kaptein Nautier, die ervare bevelvoerder van die Nantes, en die jong edelman Graaf Louis Montres, weet hul kanse op ontvlugting krimp met elke verbygaande oomblik. Montres, op ’n geheime sending namens die Franse kroonprins, Etienne, dra ’n klein, kosbare pakkie wat die ware rede is vir hul gevaarlike reis vanaf Cayenne. Terwyl die seerowers nader kom, vertrou Montres die pakkie se noodlottige belang toe aan sy lojale lyfkneg, Gilles Destillier. Die pakkie, wat die toekoms van die Franse troon kan bepaal, moet ten alle koste Frankryk bereik.

Terwyl Gilles Destillier wonderbaarlik die gewelddadige seegeveg en die sink van die Nantes oorleef, en met sy ontstellende verhaal van die gesteelde kroonjuwele, insluitend die legendariese Blou Robyn, na Frankryk terugkeer, raak die tyd vir Kroonprins Etienne kritiek. Die juwele is noodsaaklik vir sy naderende kroning. Sonder dit dreig ʼn skandaal en die moontlike verlies van sy troon, aangevuur deur die ambisies van sy neef, Graaf Rouen. Hulle enigste hoop rus nou op ’n onwaarskynlike figuur, naamlik Oloff van Wagenaar. Hy was eens die gevreesde Oloff die Seerower, maar is nou verloof aan Rynette du Bois, die prinses se vertroueling.

Oloff met sy intieme kennis van die see aanvaar die gevaarlike sending. Saam met Gilles, wie se enigste leidraad die stem van die rower hoofman is, begin ’n desperate wedloop teen tyd. Hul soektog lei hulle diep in die gevaarlike seerowersnes van San Dieres. Hier moet Oloff sy ou identiteit herleef, infiltreer, en met sluheid en vasberadenheid die waarheid ontbloot. Hy moet leuens spin, tweestryde veg, en selfs harte manipuleer in sy soeke na die kaperkaptein wat die Blou Robyn en Frankryk se toekoms in sy gulsige hande hou. Maar verraad skuil nie net op die oop see nie. Selfs binne die Franse hof word dodelike planne gesmee deur magte wat Etienne se val begeer. Sal Oloff se waagmoed en slinksheid genoeg wees om die kroonjuwele betyds terug te wen voor die laaste uur slaan?

#oloffdieseerowerstories




  • Pieter Haasbroek
    31 Oct 2022

    Gerrie Radlof is seer sekerlik een van Suid Afrika se beste Afrikaanse skrywers wat ooit gelewe het. Sy alombekende Buiter reeks van nege boeke het is goed bekend by oud en jonk wat lief is vir Kaapse verhale en word nou weer in e-boek sowel as boek formaat vrygestel. Gerrie Radlof was betrokke by ’n hele aantal reekse, maar die reeks wat seker die bekendste is van almal is, is sy uiters gewilde Oloff die Seerower reeks van 24 boeke. Hierdie reeks gaan oor die seerower era toe seilskepe nog die oseane getem het en seerowers om amper elke hoek en draai op loer gelê het vir hul prooi. Oloff van Wagenaar het dit sy lewenstaak gemaak om die see te bevry van die euwel en saam met sy getroue vriende en twee pragskepe, ervaar hulle skermutselings op see en land, waar die een met die skerpste brein en beste voorbereid was, gewoonlik die botoon gevoer het. Die reeks is lank genoeg sodat die leser nie net die gegewe seerower era kan ervaar in sy totaliteit nie, maar daar is meer as genoeg aksie, romanse, spanning, drama en ander verwikkelinge in elke storie wat die leser aangryp en nie laat los voor die storie nie eers klaar gelees is nie. Volgens my is die reeks briljant geskryf en iedereen wat hou van die tydperk in die wêreld se geskiedenis sal die stories meer as geniet.