Verveelde Prins Malik van Zanzibar se slawejag langs die Suid-Afrikaanse kus ontketen die wraak van Oloff die Seerower, wat na sy eie gevangeneming ’n waaghalsige solo-reddingspoging aanpak om sy mense te bevry.
Keywords18. OLOFF DIE SEEROWER REEKS - HAAIE VAN DIE OOSTE
Prins Mahara Jaman Malik van Zanzibar, verveeld met tradisionele slawerny, bedink ’n vermetele plan. Saam met sy lojale vriende, Mesud, Orkkan en die meer bedagsame Aydin, seil hy met sy vloot van ses blitsvinnige skepe na die suidkus van Afrika. Sy doel is om weerlose Europese nedersettings te oorval en die inwoners as hoogs-gesogte slawe te vang vir sy vader se markte. Hul eerste teiken is Algoabaai. Onder die dekmantel van vriendskap, en met geen weerstand nie, word die niksvermoedende setlaars in die nag oorrompel. Met hul eerste vrag gevangenes aan boord, en een uitdagende jong man net-net van marteling gered deur Aydin se tussenkoms, sit Malik sy skrikbewind langs die kus voort.
Maar die legende van Oloff die Seerower hang oor hierdie waters. Terwyl Malik se vloot dorp na dorp plunder en die gevange vrouens van Wagenaarsrust, insluitend die vurige Jandien wat selfs die Arabiese adel se aandag trek, wegvoer, keer Oloff terug na sy tuiste. Die nuus van die wrede aanval ontketen ’n storm in hom. Met sy skip, die Seewraak, en sy getroue bondgenote aan sy sy, jaag hy die Oosterse haaie agterna. ’n Eerste, brutale seeslag onthul Malik se slinkse taktiek en die gevaar waarin die gevangenes verkeer, wat Oloff tot moeilike keuses dwing en hom uiteindelik in ’n gevaarlike lokval lei. Vasgekeer, en later self ’n gevangene van beide die Prins en ’n verraderlike vyand in die Kaap, weier Oloff se gees om te breek.
Met sy vryheid herwin deur ’n onverwagse opoffering, is die tyd min en sy kans skraal aangesien Oloff nou alleen moet optree. Hy is nou die jagter wat skielik die prooi geword het. Hy smee ’n desperate plan wat staatmaak op vermomming, infiltrasie en ’n waagstuk wat alles op die spel plaas om sy mense te bereik wat nou aan boord sy eie skip gevange gehou word. Kan een man, gedryf deur plig en ’n brandende begeerte na geregtigheid, die magtige vloot uitoorlê en sy mense uit die kake van slawerny red? Of skuil daar ’n prys vir hierdie waaghalsige bevryding wat selfs Oloff die Seerower nie voorsien het nie?
#oloffdieseerowerstories
Gerrie Radlof is seer sekerlik een van Suid Afrika se beste Afrikaanse skrywers wat ooit gelewe het. Sy alombekende Buiter reeks van nege boeke het is goed bekend by oud en jonk wat lief is vir Kaapse verhale en word nou weer in e-boek sowel as boek formaat vrygestel. Gerrie Radlof was betrokke by ’n hele aantal reekse, maar die reeks wat seker die bekendste is van almal is, is sy uiters gewilde Oloff die Seerower reeks van 24 boeke. Hierdie reeks gaan oor die seerower era toe seilskepe nog die oseane getem het en seerowers om amper elke hoek en draai op loer gelê het vir hul prooi. Oloff van Wagenaar het dit sy lewenstaak gemaak om die see te bevry van die euwel en saam met sy getroue vriende en twee pragskepe, ervaar hulle skermutselings op see en land, waar die een met die skerpste brein en beste voorbereid was, gewoonlik die botoon gevoer het. Die reeks is lank genoeg sodat die leser nie net die gegewe seerower era kan ervaar in sy totaliteit nie, maar daar is meer as genoeg aksie, romanse, spanning, drama en ander verwikkelinge in elke storie wat die leser aangryp en nie laat los voor die storie nie eers klaar gelees is nie. Volgens my is die reeks briljant geskryf en iedereen wat hou van die tydperk in die wêreld se geskiedenis sal die stories meer as geniet.