Author

DIE ONSIGBARE GAMMASTRALE - SIMON RAND REEKS

Zombia, die land waar die bevolking hul leiers soos robotte gehoorsaam, sit steeds oorgehaal om te aas op die prestasies van mense wat nog vry kan dink en handel. Maar toe maak hulle die fout om hul grypende kloue uit te steek na die republiek Suiderkruis, waar Simon Rand een van die gesiene burgers is.

Dat die Zombiane nie met Simon Rand rekening gehou het nie, is sommer baie gou duidelik, al behaal hulle aanvanklik ’n groot oorwinning oor hul nuwe slagoffer. Maar toe Simon Rand egter eers vlamvat, raak die duiwel behoorlik los vir veral die niksvermoedende Zombiane.

#SimonRandReeks




  • Pieter Haasbroek
    02 Nov 2022

    Geen persoonlike inligting kon oor Jef van Staden opgespoor word nie. Hy het ʼn wetenskapfiksie reeks van ses boeke geskryf met die hoofkarakter se naam as Henk Human, terwyl hy nog ʼn ander wetenskapfiksie reeks ook geskryf het, getiteld die Simon Rand reeks. Hierdie reeks beslaan sewe boeke waar die geniale uitvinder Simon Rand en sy vriendin Nina du Toit, hulle hande behoorlik vol het om die marsmanne van ’n ander planeet te oorwin. Simon Rand noem hulle sommer die Breinduiwels, want hulle kom met geen goeie intensies na die aarde toe nie, buiten om amok te kom saai en die aarde te wil oorneem. Simon Rand kry dit reg om hom te kan verplaas vanaf die aarde na enige planeet wat hy kies, soortgelyk aan hoe die mense in die “Star Trek” flieks verplaas word binne sekondes van een punt na ’n ander. Dit stel hom en sy vriendin in staat om die Breinduiwels se planne aan bande te lê voor hulle groot skade kan aanrig. In een van die stories is daar ’n ruimteskip wat buite beheer raak en in ’n ewige wentelbaan deur die ruimte beland. Daar is mense wat lewend op ys bewaar word vir die nageslag, daar is gammastrale wat alles verkool wat in hul pad kom, daar is besoekers van ’n verre planeet en ’n verbete stryd wat tot die dood toe gevoer word. Dit alles vind plaas in net een van die boeke, getiteld, “Moord op die Agterkant van die Maan”. Soortgelyke dinge vind ook plaas in die ander stories in die betrokke reeks en is daar dus meer as genoeg aksie wat plaasvind, wat selfs die grootste aanhanger van wetenskapfiksie sal tevrede stel met wat hulle lees.