Author

RYK SCHOONRAAD REEKS  -  DIE ROOI KLIPPIES VAN TANDBERG

Om jou hotelkamer se deur oop te maak en ’n bakkopslang dreigend voor jou orent te sien staan, sal vir geen mens ’n aangename ondervinding wees nie selfs al is dit op die voorposte van die beskawing. Dit was een van die eerste ondervindings van die aantreklike Roelien van der Spuy toe sy op die grensdorpie Graskolk aankom op soek na haar vader wat in hierdie woeste wêreld spoorloos verdwyn het. Ryk Schoonraad, ’n jong boer op die voorposte, merk ook sommer dadelik aan die kroegvlieë se reaksie dat hier een of meer skuldiges in die onmiddellike omgewing is, en hy besluit dadelik om ’n handjie by te sit...




  • Pieter Haasbroek
    02 Nov 2022

    Meiring Fouche is die skuilnaam van Francois Alwyn Venter (27/11//1916 - 8/1/1997) en is een van Suid Afrika se top skrywers wat oor ’n wye reeks van onderwerpe kon skryf. Ander skuilname wat hy gebruik het vir sy boeke was Marius de Jongh, Elske te Water en Rene Stegman. Onder die skuilnaam Meiring Fouche skryf hy egter meeste van sy boeke en bereik gou groot hoogtes met veral sy vier trek boeke, Offerland, Gelofte land, Geknelde land en Bedoelde land. Na die vroeë dood van Braam le Roux, neem F.A. Venter die bekende Swart Luiperd reeks oor by Braam le Roux en voltooi die reeks van sewentig boeke. Onder die skuilnaam Meiring Fouche skryf hy ook verskeie ander reekse (Baanbrekers reeks, Ryk Schoonraad reeks, Maagd van die See reeks, SA Polisie reeks en Fabel Retief reeks), waarvan die Sahara avontuur reeks seker een van sy heel beste reekse is. Hy het ook verskeie ander boeke geskryf, in reekse soos die SA Polisie reeks, terwyl ’n paar losstaande sagteband boeke ook uit sy pen verskyn het. In totaal het F.A. Venter meer as negentig sagteband boeke geskryf en meer as veertig hardeband boeke. F.A. Venter het ook verskeie kortverhale geskryf. Onder die skuilnaam van Meiring Fouche het hy vier boeke in die Ryk Schoonraad reeks geskryf, waarvan twee ook val onder die Baanbrekers reeks. Al vier boeke handel oor die begin tydperk van Suid Afrika se geskiedenis, toe alles nog woes en leeg was en die lewe nie maklik was vir enigeen nie. Dit kan tereg beskou word as SA se eie “cowboy” tydperk. Die vier boeke, “Die Rooi Klippies van Tandberg”, “Vreemde Vrou in die Wildernis”, “Vuilspel op die Vlaktes” en “Vlamme in die Kalahari”, handel oor Ryk Schoonraad se avonture in die wilde weste. Saam met sy getroue hond Napoleon het hy sy hande behoorlik vol met veediewe en ander skurke. Dan is daar natuurlik altyd ’n mooi dame ook wat hy uit die verknorsing moet red. Vir die lesers wat Meiring Fouche se stories ken, sal weet dat hy hier weereens vier fantastiese verhale geskryf het, oor die unieke tydperk in Suid Afrika se geskiedenis en die leser sal boei met sy verhale van begin tot einde. Maak dus seker jy mis nie uit om hierdie vier puik boeke ook te lees nie.